Koel somertrio

Koel somertrio Ons het drie spoggerige maar baie maklike resepte uit Feestelike Frankryk gekies waarmee jy dié somer jou gaste kan beïndruk.

ROOSROOMYS

Genoeg vir 8. Bereidingstyd 5 minute, plus vriestyd

500 ml laevetmelk

500 ml Monin-roosstroop*

250 ml dun room

roosblare en tuille-beskuitjies, vir voorsit

Meng al die bestanddele en vries dit in ’n roomysmasjien. Bedien die roomys in klein glasies met skoongewaste roosblare en ’n tuille-beskuitjie.

• Monin-produkte is by uitgesoekte deli’s beskikbaar.

KOUE KATALAANSE AMANDELSOP

Genoeg vir 6. Bereidingstyd 15 minute.

• 250 g geblansjeerde amandels

• 750 ml yskoue water

• 100 g een dag oue brood, korsies afgesny en in koue water geweek

• 3 knoffelhuisies, geskil en fyngekap

• 3 eetlepels goeie asyn (probeer sjerrie-asyn)

• 3 eetlepels goeie olyfolie • seesout en varsgemaalde swartpeper na smaak

• pitlose druiwe, ryp vye of croutons, vir opdiening

Maak die amandels so fyn as moontlik in ’n voedselverwerker. Gooi ’n bietjie yswater by en meng tot ’n pasta. Druk al die water uit die brood en voeg dit by die amandelpasta. Gooi die knoffel, asyn en olyfolie by en verwerk dit tot die tekstuur baie fyn is. Toets vir sout en peper, en meng dit verder in die voedselverwerker terwyl jy die orige water stadig byvoeg tot die sop fluweelagtig is soos dun room.

Verkoel die sop in die yskas vir minstens 2 uur. Toets weer vir sout en peper voordat jy dit in verkoelde bakkies voorsit – jy kan selfs ’n ysblokkie of twee ingooi.

Bedien die sop met croutons, pitlose druiwehalwes, ’n oopgebreekte vars vy of net ’n paar druppels sjerrie-asyn.

SALMTARTARE

Genoeg vir 6-8. Bereidingstyd 20 minute, plus oornag-staantyd  

• 1 e vars dille

• sap en skil van 1 groot suurlemoen

• 1 e strooisuiker

• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

• 500 g vars Noorweegse salm in een stuk

• ½ t mosterd

• 2 e crème fraîche

• 1 mediumgroot komkommer

• goeie olyfolie

• salmeiers of kaviaar, vir garnering

Meng ’n bietjie van die suurlemoensap en -skil met die suiker en dille en vryf dit oor die salm voordat jy dit in kleefplastiek toedraai en oornag in die yskas laat rus.

Spoel die vis 1 uur voor bediening af, maak dit droog en sny dit dan in klein blokkies. Meng die mosterd, crème fraîche, die orige suurlemoensap en -skil en die grofgemaalde swartpeper in ’n groterige bak. Roer die salmblokkies daarby in en laat dit vir ’n halfuur op ’n koel plek rus.

Maak intussen ’n slaai: Sny die komkommer met ’n mandolien in linte, sprinkel ’n bietjie sout oor en laat dit vir 30 minute staan voor jy dit afspoel en met ’n skoon doek droogdruk.

Rangskik ’n paar komkommerlinte op ’n opdienbord, drup olyfolie oor en sit ’n skeppie gemarineerde salm bo-op. Versier dit met vars dille, ’n dun skyfie suurlemoen en ’n klein skeppie salmeiers of kaviaar.