Vuur en vlam

FOTOS: Adriaan Louw | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden


House on Fire in Swaziland is ’n vermaakruimte, kunstenaarsateljee, ontwerpmiddelpunt én kunsgalery in een. Jiggs Thorne, mede-eienaar (en self ook ’n digter, vertoonkunstenaar en beeldhouer), verduidelik waaroor dié verbeeldingryke plek gaan.

House on Fire het in my drome bestaanlank voordat dit ’n werklikheid geword het. Ek het van jongs af net gewéét ek wil eendag ’n kreatiewe ruimte bou op my ouers, Jenny en Pete, se plaas, waar ek en my broers, Sholto en Roland, grootgeword het. Die fisiese bouwerk is al tien jaar aan die gang, maar die konsep is al minstens 20 jaar aan die ontkiem in my agterkop.

Nadat ek my graad in politieke wetenskap en drama voltooi het, het ek in Johannesburg saam met houtkerfkunstenaars langs die paaie begin werk en weldra besef ’n platform is nodig om as inspirasie te dien vir die kunste in Swaziland. Dis daar waar ek die fantasielandskap van House on Fire begin ontwerp het en vandag, jare later, word dit erken as ’n wêreldklas-saamkomplek wat ’n mens kortweg ’n “performance venue” sal noem.

Swaziland het ’n baie tradisionele geskiedenis en ’n ryke kulturele lewe, maar House of Fire wil eerder die kruising wees waar die verskillende kulture byeen kan kom en waar die nuwe “kruisings” wat só gevorm word, kan help om ’n nuwe soort bestaan tot stand te bring. Met hierdie filosofie in gedagte sorg ons dat ons programme altyd eklekties is en tot uiteenlopende gehore sal spreek.

Die enigste ding wat nooit verander nie, is die feit dat ons – as ’n uitlaatklep vir uitdrukking, emosies en kreatiwiteit – altyd aan die verander is! Die ateljee se span beelhouers – Shadrack Masuku, Phuzu Mtshali en Noah Mdluli – werk baie nou saam met my en elke dag word nuwe elemente bygevoeg.

Die beeldhouprojek was een van die grootste katalisators vir die argitektuur van die gebou. Ons het baie aandag geskenk aan hoe verskillende materiale – hoofsaaklik seepsteen en indringerhout wat plaaslik beskikbaar is – as ’t ware hulleself “uitdruk” in ’n meer gestruktureerde ruimte.

Humor en woordkuns kry ook, danksy my voorliefde vir “perfomance”-digkuns en -teater, ’n regmatige plek hier. My inspirasie kom van oral, maar ek moet die Rotstuin van Chandigarh en Helen Martin se Uilhuis op Nieu-Bethesda uitsonder.

House on Fire het tans ’n meer formele struktuur omdat ons sekere funksionele elemente moet insluit, maar hopelik sal idees hulleself in die toekoms meer vrylik kan uitdruk. Ek hoop dit sal ontwikkel tot ’n volledige kreatiewe gemeenskap vir Swaziland, ’n dinksentrum wat artistieke groei aanmoedig. Die projek beskik oor ’n sekere kulturele rykheid wat dit aan die res van die wêreld kan bied – met die nodige geleenthede en ondersteuning, glo ek, kan baie spesiale dinge gebeur.

• House on Fire 00 268 528 2110, 00 268 7617 9115 (selfoon), info@house-on-fire.com, www.house-on-fire.com

• Malandelas B&B 00 268 528 3448, bookings@malandelas.com (Tariewe: R300 per persoon, R400 vir twee mense wat deel per nag.)