Grappe in glas

FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Milisuthando Bongela


Danksy die beeldhouer Willem Boshoff laat die nuwe dakvensters in die Hyde Park-inkopiesentrum in Johannesburg ’n mens nou glimlag.

Sy werk is al in die Smithsonian in Washington ten toon gestel, maar ook in ’n hele klomp ander wêreldstede soos São Paolo, New York, Madrid, Kopenhagen, Venesië en Rotterdam. Maar nou is Willem Boshoff se kuns in die “permanente versameling” van die opgeknapte Hyde Park-inkopiesentrum opgeneem.

Vir Hyde Park is oorspronklike kuns natuurlik g’n nuutjie nie, maar om dié nuwe tentoonstelling te waardeer moet jy boontoe kyk, omdat dit ’n belangrike deel van die nuwe dakvensters vorm. Willem en sy dogter, Karen, ’n grafiese ontwerper, het “woordeskatwolke” op glaspanele geskep wat bestaan uit woorde wat maniese toestande en fobies beskryf.

Willem is ’n interessante keuse omdat sy werk gewoonlik gelaai is met politieke en godsdienstige ondertone wat mense dikwels aanstoot gee. Die woordwolke is egter effens ironies en kom neer op komiese selfspot. Die humor is opgesluit in die ironiese betekenis van die woorde, wat almal verwys na verskillende irrasionele vrese waaraan die inkopiegangers dalk ly, byvoorbeeld “chrematomania” (die obsessiewe drang na geld), “carphology” (’n fanatieke drang na vryheid) en “cacophobia” (vrees vir lelike goed).

Die nuwe glasdakvensters is nie net vir die mooi nie, maar help ook die inkopiesentrum om energie te bespaar. Die dubbelglas uit Smartglass se gewilde GraphixArt-reeks bestaan uit twee glasvelle van onderskeidelik 8 mm en 6 mm dik met ’n gaping tussenin wat mikroskopiese isoleerlae bevat. Dit gaan help om die sentrum koel te hou in die somer en warm in die winter.

Fritte in die glas sal bepaal hoeveel lig die gebou binnekom. “ ’n Frit,” verduidelik Steven Riley, ontwikkelingshoof van Hyprop Investments Beperk, “is ’n simmetriese kolletjiespatroon wat help om die hoeveelheid lig te beheer wat die glas binnedring. Hoe meer kolletjies jy het, hoe minder lig kom in, en andersom.” Willem en Karen is dus basies gevra om ’n fritpatroon met ’n verskil te ontwerp.

’n Mens wonder of die kopers al kennis geneem het van die lighartige nuwe voorkoms. “Die reaksie is oorweldigend,” sê Riley. Die sentrum gaan nou selfs ’n woordeboekie druk met al die woorde wat in die kunswerke gebruik is. Kliënte kan dit gratis kry by die nuwe concièrge-toonbank wat deel vorm van die sentrum se nuwe voorkoms (die opknapwerk sal na verwagting teen Februarie 2011 voltooi wees). Boonop is die dakvensters die eerste in ’n hele reeks kunstentoonstellings wat beplan word – inkopieslawe kan dus uitsien na verskeie verrassings oor die volgende klompie maande.

Hyde Park-inkopiesentrum 011 325 4340, www.hydeparkshopping.co.za

SmartGlass 0860 695 695, www.smartglass.co.za