FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjies | WOORDE: Alma Viviers
Herwinbare papier gaan al hoe gewilder word as ’n materiaal – nie net vir beeldhouerswerk nie, maar ook vir praktiese doeleindes.
Hoe laat ’n mens eerstejaar-ontwerpstudente die taal van argitektoniese ontwerp verstaan? Maklik – jy vra hulle om as ’t ware in die argitek se skoene te klim. Dis presies wat Ian Johnston en Roy Jones, binneontwerplektore aan die Universiteit van Johannesburg, met hulle opdrag “A Step Into Architectural Design Language” gedoen het. Die studente moes die ontwerptaal van ’n argitek van die laat 19de tot 21ste eeu kies en navors en dan slegs karton gebruik om dit as ’n skoen in hulle grootte te interpreteer.
“Eerstejaarstudente lewer die beste werk wanneer hulle die skakel vorm tussen hulleself en die ontwerpveld,” verduidelik Ian. “Deur aan hulle eie lyf – hulle voete – te dink vir die ontwerp, het hulle letterlik en simbolies die ontwerp-gedagtegang van die spesifieke argitek getree.” Die resultaat is ’n heeltemal oorspronklike ontwerp wat óf as struktuur óf in die gebruik van sekere detail die “taal” van die meester praat.
VISI was beïndruk met die kartonskeppings en het ’n paar van ons gunstelinge gekies om hier te wys. Katty Chavez Velasquez (foto op die vorige blad) het die Spaanse argitek Antonio Gaudí se beroemde La Sagrada Família in Barcelona gekies en die kerk se vele torings in haar elegante spykerhakskoen geëggo. Die legendariese Nederlandse argitek Rem Koolhaas is deur Alicia Neveling in karton vereer, terwyl Helene Nunes (heel bo regs) die tegnotaal van Renzo Piano en Richard Rogers se Pompidou-sentrum in Parys gekies het. Wesley Eaton (onder links) het met ’n paar rooi sandale vorendag gekom as interpretasie van He Jingtang se China-paviljoen by die Shanghai-wêreldekspo.
Papierfeite
Papier word in die verhouding 1:1 van herwinde papier gemaak. Dit beteken vir elke ton papier wat herwin word, kan 1 ton nuwe papierprodukte vervaardig word. Omdat papier so lig, veelsydig en herwinbaar is, word dit deur al hoe meer meubel- en ligontwerpers – selfs argitekte –gebruik. Tradisionele tegnieke soos papier-mâché en origami word ook deesdae op nuwe en interessante maniere ingespan.
• Kunsfakulteit, ontwerp en argitektuur, Universiteit van Johannesburg 011 559 1098, www.uj.ac.za

