Plastiekparade

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes


Hou plastiekeetgerei uit jou kombuislaaie deur dié oulike houers daarvoor te maak. En dis so maklik!

Plastiekeetgerei bly gewoonlik in die wegneemsakkie agter, óf ’n mens gooi dit sonder om twee keer te dink in die naaste vullisdrommetjie. Maar met stelletjies wat deesdae in helder kleure of gitswart beskikbaar is – ’n mens kry selfs van hulle wat deur Philippe Starck ontwerp is – is dié weggooigoed nou iets wat jy gerus maar kan versamel.

Moenie dit net in die onderste laai saam met al die ou strooitjies, eetstokkies en ander los goed gooi nie; jy kan in ’n japtrap vir hulle ’n spesiale bêreplek maak.

Die vervaardigers van bleik- en ander skoonmaakmiddels het deesdae ’n groot verskeidenheid heerlike bont verpakkingsmateriaal – daar’s selfs beperkte uitgawes wat silwer- en goudkleurig is. Versamel ses bottels in die kleur van jou keuse, trek al die etikette af, was dit deeglik en sny die tuite met ’n skerp mes of Stanleymessie af. Dis so maklik soos val uit ’n boom.