Die Keiserin van reuk: Sissel Tolaas

Sissel Tolaas het die die skrywer Daniel Scheffler só beïndruk en geïnspireer by vanjaar se Design Indaba dat hy op Skype met haar aan die gesels geraak het oor reuke en stank en alles tussenin. Sy werk met David Beckham se tekkie, die vrees-emosie, en selfs saam met Louis Vuitton… Is daar enige plek op die aardbol wat nog nie onder haar neus deurgeloop het nie?

Sissel het oor dekades, en in al wat bedryf is, haar soektog na helderheid voortgesit. Haar doel: om emosies en vooroordele agter te laat en reuk te ervaar vir wat dit werklik is. En, sê sy, “nou sleep almal by my vlerk”. Sissel glo ons ruik nie net met ons neuse nie, maar ook met ons niere, ons sperm, ons vel, en eintlik ons ganse liggaamstelsel. Dit is wat haar so fassinerend en uitdagend maak.

VISI: Jy noem jouself ’n professionele uitdager. Vertel my waar jy aan die titel kom en hoe jy dit jou eie gemaak het.

Dit lyk of almal deesdae ’n titel het. Myne kan ’n mens dalk binne of buite my beroep of die omvang van my werk beskou. Dit het daarmee te doen om mense op ’n goeie manier uit te daag, ’n radikale manier, maar nie bloot om hulle te tart nie – dit is baie meer fundamenteel. My kennis is uitdaging – die bedryf probeer alles wegsteek, terwyl ek probeer om die basiese dinge te onthul. Eintlik is ek dus ’n professionele tussenganger – my wêreld beperk nie homself tot ’n spesifieke bedryf nie, dit bestaan in alle sfere van die lewe.

Ek is nie ’n kunstenaar of ontwerper nie. Ek hou nie van die grense wat daardie titels stel nie. Ek is prettiger, meer oop en toeganklik, en my doel is om my wêreld te vergroot. Elke maatskappy het iemand soos ek nodig, iemand wat die onderneming op sy kop kan draai en kan uitwys waar goed oor-ontwerp is, maar nie goed genoeg verstaan word nie.

Die David Beckham-tekkie is ’n wonderlike storie oor jou kliënt Adidas. Vertel ons meer daaroor.

Wel, ek wou vir Adidas wys ’n slegte reuk kan ook goed wees. Daarom het ek ’n monster van ’n ou David Beckham-tekkie gevat en dieselfde molekules wat ek op die stink skoen aangetref het, gebruik om ’n kaas te maak. Die kaas was in die vorm van ’n sokkerbal met Adidas se logo op, en dit is by die Wêreldbeker aan Adidas se kliënte voorgesit.

Vertel ons meer oor die soort kliënte wat jy het.

Ek is ’n konsultant vir verskeie maatskappye en leer iets nuuts uit elke projek. Dit is ’n intense reis saam met kliënte wat vir verskillende redes op soek is na ’n reuk. Deutsche Bank en die Duitse Eerste Wêreldoorlogmuseum tel onder my kliënte, en ek is ook by opwindende projekte in die gesondheidsorgsektor betrokke. Dit kan kommersiële of nie-kommersiële navorsing wees. Ek het byvoorbeeld ’n projek vir ’n hospitaal gedoen waar ek iets ontwerp het waarmee ’n mens jou geheue op ’n psigologiese vlak kan uitdaag. Ek stel belang in opvoeding en daarom help ek mense ook slaap- en onthouvaardighede asook verdraagsaamheid leer. Alle aspekte van menslikheid vorm deel van my werk.

Vertel ons hoe jy te werk gaan.

Ek bekyk die situasie en bied ’n oorsig aan van dít wat reeds daar is. Ek sit nooit iets nuuts by nie. Dit is altyd daar en sal altyd daar wees. Ek onttrek molekules en probeer dan in ’n kreatiewe wêreld ’n objektiewe wetenskaplike siening aanbied oor wat ek ontdek het. Ek hou nooit op met werk nie; ek het te veel energie. Vir my gaan dit alles daaroor om te lewer. My werk laat ruimte vir ’n onmiddellike reaksie, wat voltydse navorsing is.

Hoekom het jy jou in Berlyn gevestig?

Ek was depressief in Skandinawië. Ek het nie in Brittanje of die VSA belang gestel nie, want dit is te kommersieel. Ek is mal oor Oos-Europa en Berlyn was ’n goeie kompromie. Ek het ’n groot laboratorium hier, ek werk gemaklik, want die Duitsers verstaan infrastruktuur. En die pa van my kind woon hier.

4D, wat Avatar byvoorbeeld gebruik het vir reuke en water, is die jongste bemarkingsgier. Hoe voel jy daaroor?

Ek dink nie dit is regtig moontlik nie… ’n mens het te veel chemikalieë daarvoor nodig. Baie mense het al probeer om ’n bui te skep en ek het wel daaraan aandag geskenk, maar reuk is ’n te individualistiese proses. Ek hou wel van “scratch and sniff” omdat dit ’n meer eensame of individuele proses is. Met hierdie groot 4D-projekte is daar net te veel veranderlikes – ’n mens moet uiters presies wees om ’n spesifieke atmosfeer te skeep. Eintlik stel ek ook nie belang in die geur van ’n atmosfeer nie. Ek is net geïnteresseerd in die fisieke reaksie, glad nie in die emosionele reaksie nie. Net die verandering van die handelsmerk en die lyf laat my regop sit.

Hoe dink jy beïnvloed geur of reuk ons daaglikse lewe?

Ons leef in ’n gepasteuriseerde wêreld. Alles word in vakkies verdeel en met die etiket “goed” of “sleg” gestraf. My doel is om te wys dat slegte reuke ook ’n doel het – bakterieë wat wondere verrig vir jou immuunstelsel, het ook ’n reuk. Kyk na kaas – dit is ’n vanselfsprekende voorbeeld van hoe reuke goed kan wees (hoe erger dit stink, hoe gesogter is die kaas!). Maar wie maak die reëls oor wat goed en sleg is? Die bedryf draai ons ’n rat voor die oë sodat ons moet dink goed móét op ’n sekere manier ruik. Hoekom anders ruik amper alle versagmiddels soos appels of suurlemoen?

Waarom word reuk dikwels as die “mindere” sintuig beskou? Waarom is sig, gehoor en smaak belangriker?

Dis Westerse denkpatrone en filosofie wat hierdie denke laat posvat het. Volgens die outydse opvatting is reuk privaat en innerlik, en deur daarin en in verwante velde te delf, word privaatheid versteur. Ek wil reuk uit die private en emosionele sfeer verwyder en dit dekontekstualiseer. As kinders leer ons om reuk met emosies te verbind, en dit bly so vir die res van ons lewe. Ek wil meer tyd bestee aan opvoeding, om hierdie nuwe maniere van ervaar van ’n jong ouderom af te beïnvloed. Dit kan help om goed soos vooroordele te keer. Dink aan die manier hoe jy jou neus optrek vir ’n boemelaar – waarom is dit ’n slegte reuk? Dit is net ’n assosiasie wat ons in ons kinderjare ontwikkel het.

Waarheen is ons op pad in terme van reuk en reukontwerp en -navorsing?

Ons probeer die werklikheid uitmekaar haal sodat ons reuk of geur kan sien vir wat dit werklik is. Bemarking het oorgevat by die wetenskap en idilliese beelde vir parfuum geskep. Dit is belaglik, want die beelde is nie verteenwoordigend van die reuk nie.

Waarom dink jy dra mense steeds reukwater of parfuum?

Ek verstaan dit eenvoudig nie. Ek sou sê om aandag te trek. Ons het ’n liggaamsreuk, wat uniek is – waarom nie eerder dít dra nie?

Het jy al die roman “Emperor of Scent” gelees?

Geen kommentaar. Baie omstrede. Almal het die reg om enigiets te probeer, maar ek stem nie noodwendig saam nie.

En die roman “Perfume”?

O, ek is totaal daarteen gekant.

Richard Axel en Linda Buck het in 1991 die Nobelprys vir medisyne gewen vir hul navorsing oor reuk. Deur hulle navorsing het hulle ontdek hoe die brein tussen 10 000 verskillende reuke kan onderskei. Hoe het dit jou soort werk verander of beïnvloed?

Ons het deelgeneem aan ’n paneel om argitektuur met reuk te versoen en ’n artikel in Columbië gepubliseer. Ek sou sê dit het my honger gemaak om nog inligting in te samel, om die status quo voortdurend uit te daag.

Christopher Brosius het reuke soos “nat handskoene” en “skoon bababoude” ontwerp. Sy jongste projek is ’n parfuum wat jy nie eens kan ruik nie – onsigbare parfuum. Wat dink jy van sy werk?

Almal kan doen net wat hulle wil. Dit is baie konseptueel, radikaal, maar miskien net te eensaam of te veel werk. Ek maak nie nisparfuums nie – ek doen iets anders. Ek het in die vroeë jare negtentig begin. Het ons regtig nog ’n vrot parfuum nodig? Ek het niks teen die produkte nie, maar ek wil meer weet. Nie net oor parfuum nie.

Met jou navorsing en praktyk probeer jy ’n ongelooflike nuwe manier van verdraagsaamheid leer. Brei ’n bietjie uit op dié stelling.

Wel, deur gereedskap vir opleiding te ontwerp, probeer ek ’n stelsel skep op dieselfde manier as wat ons die ABC of 123 moet leer. Ons het immers nie ’n emosionele reaksie op daardie stelsels nie, of hoe? Met reuk behoort dit dieselfde te wees. Dit beteken ons sal meer verdraagsaam kan wees wanneer dit kom by “slegte” reuke of “slegte” mense.

Oor watter reuke is jy mal?

My dogter, op enige ouderdom. Maar ek is mal oor alles. Alles is interessant. Ek probeer om nie my emosies te betrek nie.

Wat van die honderde kommersiële reukwaters en parfuums wat in die winkels beskikbaar is? Waarom is daar so ’n groot aanvraag?

Mense wil die aandag op hulleself vestig. Maar nou wil ek kyk of ’n mens ook die teenoorgestelde kan regkry, om mense weg te stoot. Daarom maak ek nou ’n reuk wat sê “los my uit”. Daar is ’n Chinese man wat elke dag gesukkel het om ’n sitplek op die trein te kry. Op ’n dag het hy homself met vis besmeer, letterlik in vis gebad, en toe is hy werk toe (lag). Nou het hy ruimte, ’n hele armlengte ruimte, om hom op die trein.

Wat lees jy op die oomblik?

“The end of illness” deur David B. Agus. Dit kyk op ’n totaal nuwe manier na gesondheid en siekte.

Klik hier om meer oor Sissel Tolaas te lees.  

Volg @danielscheffler op Twitter.

Tags: