PHOTOS: Greg Cox | PRODUCTION: Etienne Hanekom | WORDS: Alma Viviers
Met kliente wat wissel van Nedbank tot die Neighbourgoods-mark, van Sappi tot Superette, is die kanse goed dat jy al die talentvolle grafiese ontwerper Erika Koutny se werk gesien het.
Hoe het jou lewenspaadjie geloop?
Ná ’n B.A.-graad in kreatiewe kommunikasie by die Vega-ontwerpskool in Johannesburg was ek ’n ruk lank by ’n klein ontwerp-agentskap. Toe trek ek Kaap toe, waar ek as ’n vryskutontwerper gewerk het. In 2009 het ek ’n B.Tech. in grafi ese ontwerp voltooi by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT).
By die KSUT het jy tot dosent gevorder. Verkies jy doseerwerk bo die praktyk?
Om te leer ontwerp is soos om te leer bestuur: Eers moet jy hard konsentreer, maar sodra jy dit kan doen, moet jy krities raak. Dis waar die onderwyser ’n rol speel. Selfs in die bedryf is jy ’n onderwyser vir jou werknemers.
Jou werk vir Dig For Fire en die Neighbourgoods-mark het ‘n handgemaakte kwaliteit. Hoe belangrik is die tekenhuis vir ‘n grafiese ontwerper?
Ek kan nie eintlik teken nie. Die meeste van die werk waarvan jy praat, is digitaal gedoen. Die potlood of toetsbord is net ’n stuk gereedskap om die fi nale produk te maak.
Hoe werk jou ontwerpproses?
Ek gaan deur stadiums. Soms kyk ek na talle tydskrifte, Google hope goed of lees nuus aanlyn. Ander kere wil ek niks sien nie. Idees sit in jou agterkop, en enigiets kan jou inspireer. Dis nooit ’n liniêre proses nie – jy genereer 50 idees en keer terug na een, of jy kombineer elemente van idee 2 met idee 45.
Jy was onlangs betrokke by die ontwerp van ‘n ontwerp van ‘n boek oor die Kaapstad-Stadion. Vertel meer.
Dit was moeilik. Ons het slegs twee maande gehad omdat die bekendstelling voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi gehou moes word. Ons het probeer om die stadion se bouproses te weerspieël en die storie deur foto’s en verskillende perspektiewe te vertel.
By vanjaar se Design Indaba het die grafiese ontwerper Stefan G. Bucher gese vir hom is boekontwerp kalmerend. Wat is jou ervaring?
Ek stem saam, maar dis nietemin harde werk. As ek vergeet het om ’n teks dubbelspasiëring te gee, lê ek wakker.
• 083 324 0082, www.erikakoutny.com

