PHOTOS: Dook | WORDS: Gareth Pyke
’n Mens kry mense met visie wat die sosiopolitieke of ekonomiese landskap van Suider-Afrika verander, en dan kry jy mense soos die landskapontwerper en tuinboukundige Greg Straw wat dit, wel, letterlik doen.
Greg Straw is die eienaar van Earth Archi-tectural Landscapes, ’n maatskappy wat van Sandton tot Pemba aardlinge aanmoedig om landskappe en habitats tot hulle vorige glorie te herstel. Onder hulle talle projekte tel private huise, Nelson Mandela se tuine in Qunu en Houghton, die Athol Place-boetiekhotel in Sandton, gemeenskapsbyeboerderye, en selfs sokkervelde in die Kongo.
Greg beweeg heeltyd tussen die spogge-rigste en nederigste terreine. VISI het hom een oggend vroeg op ’n aanloopbaan in Vilanculos uitgevra oor Earth – en die aarde.
“Wat ons anders maak, is die feit dat ons landskappe ontwerp, bou, plant én in stand hou. Ons kweek selfs ons eie plante,” lag hy, “en dít kan nogal ’n uitdaging wees met die soutseesproei by ’n eilandhotel aan die ooskus van Afrika!”
Kortom: Jy sal Greg net so maklik by ’n sjiek hotel raakloop as by een van Zambië se oudste gholfbane wat effens opgeknap moet word. Die een dag ontwerp hy ’n droomdakwoonstel in Sandhurst en die volgende dag is hy doenig met ’n plaasoord waar vigswesies met diere kan kennis maak.
Wat is volgende? “Ons ontwerp tans ’n terreinplan wat as bloudruk sal dien vir 260 nuwe skole wat reg oor Suid-Afrika gebou gaan word. Ons is ook besig met drie vakansieoorde in Mosambiek, etlike selfvolhoubare markte – én ons is hard aan die dink oor volgende jaar se Rooms on View.”
Africa is ’n tamaai vasteland, maar gelukkig dink Greg Straw nie klein nie.
• 011 606 2671, www.earthland.co.za

