Om den brode

FOTO’S: Pieter Vosloo | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly


Toe een van die interieurontwerper J.P. Beukes se gereelde kliënte hom vra om ’n vergaderkamer te ontwerp, het hy die materiaal gebruik wat volgens hom die “eerlikste” is.

“Hout is eg.” Dís hoekom dit deesdae weer hoogmode is in die ontwerpwêreld, sê J.P. Beukes. In ’n era waar massaproduksie en nabootsings koning kraai, is die toenemende gebruik van hout ‘n teenreaksie op alles wat mensgemaak is. Hout is solied, tasbaar en altyd neutraal of warm as jy daaraan raak – nooit koud nie, sê hy.

Dit is ook ’n nostalgiese materiaal wat ’n mens herinner aan ’n tyd toe vakmanskap die kroon op alles gespan het. Die wêreld smag weer na daardie soort egtheid.

Die meeste van J.P. se ontwerpprojekte is ruimtes wat herdink moet word, en toe een van sy kliënte, die advertensieagentskap Euro RSCG in Bryanston, Johannesburg, hom vra om ’n nuwe raadsaal te ontwerp, wou hy dadelik met ’n plek vorendag kom wat skeppende denke bevorder. Die resultaat is ’n ontvangsruimte en vergaderkamer wat van vloer tot plafon net hout is en ’n mens effens aan ’n Skandinawiese sauna herinner.

J.P. se span by Onepointzero het dié effek bewerkstellig deur dennehoutpanele op aluminiumrame pleks van droëmure vas te skroef. Om die natuurlike warm kleur van die PG Bison-dennehout te behou het J.P. die panele met gewone Nova 5- deursigte seëlmiddel geverf. Omdat dit ’n deel van die kantoor is wat baie verkeer dra, het hy vir die vloere Belgotex se Woodmark-vinielvloere gekies wat net soos hout lyk.

Al die moderne konferensiegeriewe is steeds daar: inhamme aan die kant huisves strookligte, terwyl ’n skerm met die druk van ‘n knoppie teen die agterste muur afrol.

Euro RSCG se uitvoerende hoof, Lynn Madeley, sê die nuwe ingang en raadskamer is die perfekte oplossing om die digitale arm van haar onderneming, 4D Euro RSCG, van die tradisionele agentskap te skei. “Vir ’n digitale agentskap verwag jy helder neonligte, of dalk ’’n bedrywige laboratoriumgevoel,” sê Lynn.

Tog word die tegnologie op sy kop gekeer met J.P. se houtontwerp en skep hy ’n veel meer geankerde werkomgewing. “In die digitale veld kan dit moeilik wees om te fokus, maar dié unieke ruimte maak dit rêrig maklik.”

Maar, belangrik, as dit kom by die gebruik van tegnologie of die doeltreffende gebruik van ruimte was daar geen kompromie nie. En die heel belangrikste: Die agentskap se kliënte het positief gereageer. Hier is dit hout wat wérk – op die eerlikste moontlike manier.

Meer inligting: 011 486 7766, 083 629 3701, www.onepointzero.co.za