PHOTOS: Dook en Greg Cox | PRODUCTION: Annemarie Meintjes, Klara van Wyngaarden en Etienne Hanekom | WORDS: Taryn Lamberti en Alma Viviers
Plaaslike kantore is dalk nog nie op Google se vlak nie, maar ál meer werkgewers besef ’n gemaklike kantoor kan die werkerbye gelukkiger en produktiewer maak.
Die meeste mense het nie ’n benul wat agter die stil fasade van Stark Studios in Fontainebleau, Randburg, aangaan nie. Die gebou is in verskillende skakerings van ryk bruin geverf, wat dit met die vormtuin laat saamsmelt – uiteindelik is die geheel ’n gesofistikeerde stedelike landskap wat kontemporêr dog ook aards voel. Maar in der waarheid is hierdie groot struktuur die werkplek van die span van 150 mense wat die TV-reeks Binneland Sub Judice vir M-Net vervaardig.
In die ontvangsgebied gee drie soliede ou mynbalke (van Laurie Owen Interiors) die toon aan vir die res van die interieur. Die dubbelverdiepinggebou is om ’n binnehof opgerig, en die ontvangsgebied en die deel buite die twee opname-ateljees is dubbelvolume. Elkeen van dié dubbele ruimtes het ’n trapreling met breë houttrappe wat deur ’n elegante staalstruktuur ondersteun word. Dienssentrums met koffiestasies is strategies geplaas en maklik bereikbaar, terwyl die ander geriewe insluit ’n ouditorium met 50 sitplekke, produksiebeheerkamers en -kantore, redigeerateljees, ’n haar-en-grimeersalon, ’n ateljee vir teksskrywers, ’n garderobe- en kunsdepartment, en aantrekkamers vir die akteurs. Die bestuurskamer en sit- en eetruimtes loop almal uit op ’n dubbelvolume-stoep wat uitkyk op ’n reghoekige waterelement en agter dít die tuin wat deur Patrick Watson ontwerp is.
Die Kaapstadse argitek Joeke Monteiro het die kompleks van 7 100 m2 ontwerp. Die vriendskap tussen die kliënt en argitek het die grondslag gevorm vir die suksesvolle vertolking van ’n baie komplekse opdrag: Die baie spesifieke operasionele en tegniese vereistes was ononderhandelbaar, maar die ruimte moes terselfdertyd kreatiwiteit bevorder. Bastion Construction het die bouwerk behartig, en die eindresultaat is hipermoderne opname-ateljees van ’n internasionale peil, in ’n inspirerende en ontspanne omgewing. Die gebou het ’n unieke voorkoms wat aardse boukunde en gedempte kontemporêre eenvoud naatloos kombineer. Die gebalanseerde spel tussen solied (in die vorm van oorgoot mure) en deursigtig (die enorme glaspanele) sorg vir ’n wonderlike energie en vloei, en tog voel elke ruimte intiem en duidelik gedefinieer.
Die styl word verder gevoer met die dekor en meubels wat deur die kliënt, argitek en die Kaapstadse interieurontwerper Andrea Graff ontwerp is. Aan die fynste detail is aandag geskenk: Die rusbanke en tafels is spesiaal deur Pierre Cronje gemaak; Dokter en Misses het gesorg vir die 4 m-eetkamertafel; die kunstenaar Sascha Stylianou sit agter die enorme muurskildery, en die Bedoeïene-kelims is uit Libië ingevoer. Werke deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos die skilder Deborah Bell en die materiaalontwerper Jenny Gifford verleen verdere flair aan die interieur. Die hele kompleks kon in werklikheid soos duisende ander industriële ruimtes gelyk het, maar danksy die talentvolle span voel dit meer soos die vriendelike tuiste van ’n kunsversamelaar. As ’n mens sien hoe gereeld die akteurs lag en met mekaar die gek skeer, is dit duidelik die gebou het ’n positiewe invloed op almal wat bevoorreg is om hier te werk.
• Joeke Monteiro 083 267 6636 joeke.m@iafrica.com

