FOTOS: Dook en Greg Cox | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes, Klara van Wyngaarden en Etienne Hanekom | WOORDE: Taryn Lamberti en Alma Viviers
Plaaslike kantore is dalk nog nie op Google se vlak nie, maar ál meer werkgewers besef ’n gemaklike kantoor kan die werkerbye gelukkiger en produktiewer maak.
Die opdrag aan die interieurontwerper Astrid van der Heim was kort en kragtig: Die nuwe Johannesburgse hoofkantoor van die advertensieagentskap Radioheads moes ’n hip weerspieëling van hulle kliënte – mense in die radiobedryf – wees.
“Dit was ’n bra oninteressante plek met botterblomgeel mure en ’n dadoreling,” sê Astrid oor die toneel wat haar die eerste keer in Houghton Estate begroet het. Dié saai affêre was totaal verkeerd vir ’n dinamiese jong maatskappy propvol jong, kreatiewe mense wat die beroepsleer uitklouter. Gelukkig is die slonsigheid nou iets van die verlede, en in die plek daarvan is ’n ontwerperswerkplek in die maatskappy se amptelike kleur: ’n lekker lewendige oranje.
Dicksy Ngqula, die algemene bestuurder, sê vyf jaar ná die ontstaan van Radioheads het hulle dringend ’n groter ruimte nodig gehad. ’n Ander behoefte was twee nuwe produksie-ateljees waar agtergrondstem-opnames en regstreekse radio-uitsendings gedoen kon word. “Die plek was beperk en daarom het ons ’n ontwerper gekry om die meeste uit die beskikbare ruimte te put,” vertel hy.
Astrid wou ’n omgewing skep wat ’n mens opbeur, en hoewel sy ’n sterk kleurskema gebruik het, laat die kantoor ’n mens verbasend kalm voel. Die geheim? Wanorde word nie geduld nie en daar’s oorgenoeg pakplek om al daardie deurmekaar kantoorgoeters uit die oë te hou. Selfs die kantoorlêers is in ’n oranje en grys kleurskema. “Vandat ons hier ingetrek het, het almal baie meer energie. ’n Mens kan sien mense is trots op hulle werkplek en hulle hou dit self skoon en netjies,” sê Dicksy.
’n Sterk visuele element
Die ontvangsgebied, wat ’n kombuis en kroeg insluit, is ’n lekker sosiale ruimte waar hulle kliënte kan onthaal. Die twee opname-ateljees loop ook uit in die foyer terwyl ’n mens met die trappe na die vergaderkamer en oopplankantoor op die boonste vlak gaan. Die mure in die ontvangsgebied is bedek met grafiese muurpapier van leer met versonke knope – dit sorg vir ’n sterk visuele element wat die taamlik onopvallende interieur nie net interessant maak nie, maar ook die onderskeie gedeeltes saamsnoer.
Omdat die begroting beperk was, het Astrid slim te werk gegaan en self ’n kandelaar ontwerp wat glans aan die trapreling verleen. Sy het 32 ligte gekoop en haar elektrisiën gevra om dit op verskillende hoogtes te installeer. Heel toevallig lyk dit boonop amper soos glasmikrofone wat onderstebo hang!
“Radiostasies was altyd baie hip plekke waar DJ’s en hulle bewonderaars uithang. Ek wou daardie glansryke gevoel herskep,” verduidelik Astrid. Die muurpapier herinner ’n mens ook aan die dae voor moderne klankdigting toe klankateljees met allerlei goed opgestop is om ongewenste geluide buite te hou.
Radioheads se stylvolle projekbestuurder, Phemelo Molefe, voel heeltemal tuis in die sjiek nuwe werkplek. Sy wys na ’n reeks wit-en-swart portretfoto’s van radiopersoonlikhede en vertel al die werknemers kon ’n persoonlikheid vir die muur kies. “My keuse was Alex Jay, omdat hy vir my ’n ikoon is,” sê sy. Die ander bekendes sluit in Shado Twala, Phat Joe, Glen Lewis en die rowwe Amerikaanse omroeper Howard Stern.
Die grinterige portretfoto’s laat Astrid weer aan die radiolegendes van weleer dink. “Hierdie mense bring maklik agt tot tien uur per dag op kantoor deur, en daarom was dit vir my belangrik om ’n omgewing te skep waar hulle gemaklik kan wees.” Dicksy stem saam: Met haar ontwerpe het Astrid die spyker op die kop geslaan.
• Astrid van der Heim 072 799 0829, vdhinteriorsintcc@vodamail.co.za

