FOTOS: Dook and Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers
Potspeltafels, robotte en lawalampe is nie die soort dekor wat ’n mens in die kantore van ’n groot maatskappy verwag nie, en tog is dit ’n belangrike deel van die nuwe werkplek van MIH, die e-media-vleuel van Naspers.
“Die meeste besoekers is verbaas as hulle by die deur instap en sê gewoonlik dadelik: ‘Ek wil ook só ’n kantoor hê!’,” vertel die projekbestuurder, Basie Crouse, wie se werk dit was om die regte kantoorruimte te vind om Antonie Roux, uitvoerende hoof, se visie van ’n “Google-werkplek” te bewaarheid.
Verskeie opsies is oorweeg, maar uiteindelik het MIH besluit om terug te keer na die woelige sakehart van Kaapstad. Die OK Bazaar-kantoorgebou reg langs die blommemark in Adderleystraat, wat onlangs gerestoureer is, het net die regte hoeveelheid vloerspasie en parkeerplek gebied, teen die regte prys. In Junie 2010 het die maatskappy op die vierde en vyfde verdieping van die gebou ingetrek.
’n Deel van die opdrag aan Design 360, wat die infrastruktuur en ruimtelike beplanning behartig het, was om dadelik ontslae te raak van die saai droëmure en generiese duiwehokkies waarvoor korporatiewe kantore so berug is.
“Hierdie is nie ’n kantoor in die tradisionele sin van die woord nie,” sê Basie. “Die bestuur kruip nie in weelderige hoekkantore weg nie – ons het die korporatiewe struktuur gelyk gemaak.”
By MIH sit die bestuurders nou saam met hulle spanne, terwyl die senior bestuurslede elkeen hulle eie hoek in ’n oopplankantoor het. Slegs glaspanele word ingespan om ruimtes te definieer en selfs die direksiekamers is deurskynende glasbokse.
“Ons wou wegkom van daai stowwerige, geheime gevoel wat mense met direksiekamers vereenselwig,” sê hy. “As die baas met sy vuis op die tafel slaan, kan almal dit sien.”
Al die openheid en deursigtigheid moes darem met ’n mate van privaatheid gebalanseer word. Werknemers kan in die telefoonhokkies persoonlike oproepe maak of telefoniese onderhoude doen, terwyl die dubbele hokkies geskik is vir private gesprekke. Daar is ook verskeie informele saamkomplekke.
Die bekroonde ontwerpers Tonic is genader om hulle kreatiewe stempel op die keuse van kleurpalet, afwerkings en kantoortoerusting en -meubels af te druk.
Die resultaat is ’n kaleidoskoop van pilare wat helder geverf of met muurpapier bedek is, ’n ontvangstoonbank wat van kleur verander, en direksiekamertafels in skelgeel en turkoois.
“Ons wou ’n ware tuiste weg van die huis af skep, ’n plek waar mense voel dis lekkerder by die kantoor as by die huis,” sê Basie.
• Design 360: 021 462 6630, www.design-360.co.za
• Tonic: 011 327 2028, www.tonicdesign.co.za

