Stark Studios

FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Taryn Lamberti


Gemaklike werkplekke dra by tot beter produktiwiteit. Ons loer na Stark Studios in Randburg – die werkplek van die span mense wat Binneland Sub Judice vir M-Net vervaardig.

Die meeste mense het nie ’n benul wat agter die stil fasade van Stark Studios in Fontainebleau, Randburg, aangaan nie. Die gebou is in verskillende skakerings van ryk bruin geverf, wat dit met die vormtuin laat saamsmelt – uiteindelik is die geheel ’n gesofistikeerde stedelike landskap wat kontemporêr dog ook aards voel.

Maar in der waarheid is hierdie groot struktuur die werkplek van die span van 150 mense wat die TV-reeks Binneland Sub Judice vir M-Net vervaardig.

In die ontvangsgebied gee drie soliede ou mynbalke van Laurie Owen Interiors die toon aan vir die res van die interieur. Die dubbelverdiepinggebou is om ’n binnehof opgerig, en die ontvangsgebied en die deel buite die twee opname-ateljees is dubbelvolume. Elkeen van dié dubbele ruimtes het ’n trapreling met breë houttrappe wat deur ’n elegante staalstruktuur ondersteun word.

Dienssentrums met koffiestasies is strategies geplaas en maklik bereikbaar. Die bestuurskamer en sit- en eetruimtes loop almal uit op ’n dubbelvolume-stoep wat uitkyk op ’n reghoekige waterelement en agter dít die tuin wat deur Patrick Watson ontwerp is.

Die Kaapstadse argitek Joeke Monteiro het die kompleks van 7 100 m2 ontwerp. Die vriendskap tussen die kliënt en argitek het die grondslag gevorm vir die suksesvolle vertolking van ’n baie komplekse opdrag: Die baie spesifieke operasionele en tegniese vereistes was ononderhandelbaar, maar die ruimte moes kreatiwiteit bevorder. Bastion Construction het die bouwerk behartig, en die eindresultaat is hipermoderne ateljees van ’n internasionale peil.

Solied vs. deursigtig

Die gebou het ’n unieke voorkoms wat aardse boukunde en gedempte kontemporêre eenvoud kombineer. Die gebalanseerde spel tussen solied (in die vorm van oorgroot mure) en deursigtig (die enorme glaspanele) sorg vir energie en vloei, en tog voel elke ruimte intiem en duidelik gedefinieer.

Die styl word verder gevoer met die en meubels wat deur die kliënt, argitek en die Kaapstadse interieurontwerper Andrea Graff ontwerp is.

Aan die fynste detail is aandag geskenk: Die rusbanke en tafels is spesiaal deur Pierre Cronje gemaak; Dokter and Misses het gesorg vir die 4 m-eetkamertafel; die kunstenaar Sascha Stylianou sit agter die enorme muurskildery, en die Bedoeïene-kelims is uit Libië ingevoer. Werke deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos die skilder Deborah Bell en die materiaalontwerper Jenny Gifford verleen verdere flair aan die interieur.

As ’n mens sien hoe gereeld die akteurs lag en met mekaar die gek skeer, is dit duidelik die gebou het ’n positiewe invloed op almal wat hier werk.

• Joeke Monteiro: 083 267 6636, joeke.m@iafrica.com

Tags: