WOORDE Nikki Benatar GRAFIKA Sunshinegun
Pretoria is nie meer SA se preutse administratiewe hoofstad nie, maar staan sy plek in die kollig vol as ’n polsende metropool met koel kreatiewe siele, ’n woelige naglewe en enorme geleenthede.
Die oplewing in die Jakarandastad is presies wat die Cool Capital Biennale 2014 wil bereik. Pieter Mathews, voorsitter van die Pretoria Instituut vir Argitektuur, is aan die hoof van dié inisiatief, wat Pretoria en die omliggende Tshwane- metropolitaanse gebied visueel, tasbaar en werklik wil verander.
“Ons wil die publiek aan ’n magdom kuns, argitektuur, beeldhouwerk en stedelike asook grafiese ontwerp voorstel en terselfdertyd ’n geleentheid vir interaksie met dié projek skep,” sê Pieter. “Deur genoeg kreatiewe klein projekte met ’n passie en liefde vir ons erfenis sal ons die kritieke massa skep wat so ’n biënnale suksesvol maak.”
Die biënnale is van 23 Augustus tot 29 November 2014, wanneer die Kaapstad Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014-geleentheid en die Durban Architecture Otherwhere 2014-kongres van die Internasionale Argitekte-unie ook plaasvind.
“Enige kreatiewe persoon, instelling, vereniging of ateljee in Pretoria wat werk van ’n aanvaarbare standaard kan lewer en buite die boks kan dink, kan gerus deelneem,” sê Pieter. “Cool Capital kan verwaarloosde dele van die stad herstel en lewe daarin blaas. Die geskiedenis het bewys dat selfs klein projekte ’n groot verskil kan maak: ’n muurskildery in ’n verwaarloosde omgewing kan ’n hele buurt ophef. ‘Stedelike akupunktuur’ maak ’n blywende verskil.”
Lees meer by www.coolcapital.co.za. Bly op die hoogte en “like” hulle Facebook-blad by CoolCapital2014.

