FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly
Dooie diertjies val nie in almal se smaak nie, maar daar’s net iets aan antieke taksidermie wat ons tans onweerstaanbaar vind.
Die mode het vroeër vanjaar plaaslik posgevat toe die Johannesburgse interieurontwerper Tessa Proudfoot allerlei rariteite ten toon gestel het – van ’n ou reiskoffer tot opgestopte flaminke en ’n leeuvel. Ons voorspel almal gaan binnekort die rommel- en antiekwinkels invaar op soek na kuriositeite wat lyk of dit uit Oupagrootjie se argeologiese skatkis kom. Boonop maak dit nie saak of jy enkele aksentstukke of ’n hele versameling verkies nie, want dié vondste werk ewe goed in ’n klassieke of kontemporêre konteks.
Moderne taksidermie is dikwels baie omstrede, maar stukke uit die Victoriaanse era en vroeë 20ste eeu kom uit ’n ander era – toe het mense wat op uitgebreide reise deur Afrika was, sonder skroom dié lieflike reisherinneringe in hulle sitkamers ten toon gestel.
Wees op die uitkyk vir Animal Logic, die foto- graaf Richard Barnes se nuwe boek vol natuur-geskiedenisfoto’s as jy nog inspirasie soek.
Takbokhoringlamp gemaak van natuurlik afgewerpte horings R4 800; 1953-plakkaat van ’n Paryse universiteit R5 000, wit parakiet uit die jare twintig R4 200, papier-mâché-beerkop R8 520, groen papegaai uit die jare twintig R2 800, en moderne reuse-ooruil R5 250, alles van Tessa Proudfoot & Vennote
• Tessa Proudfoot & Vennote 011 788 7374, www.tessaproudfoot.co.za

