FOTOS: Mark Williams | PRODUKSIE: Tina-Marie Malherbe | WOORDE: Johan van Zyl
’n Stuk of 20 jaar gelede het twee versamelaars in De Waterkant, Kaapstad, aan ’n “Less is a bore”-nes begin bou waarin elke fyn detail ’n duisend stories vertel oor hulle liefde vir Indië en vir ouwêreldse vakmanskap.
In ’n nou keisteenstraat aan die rand van die Kaapse middestad staan ’n huis met ’n geskiedenis. Toe dit in 1830 vir Britse soldate gebou is, het die branders nog digby die voordeur geklots, en nie lank daarna nie het lady Anne Barnard hier sit en peusel aan ’n geilsoet vy wat ’n slaaf vir haar gepluk het, stellig van dieselfde boom wat nou in die huis se (nuwe) trippelvolume-glashart staan, ’n knewel met ’n vol lewe agter die blad.
’n Dekade of twee gelede het die reeds luisterryke geskiedenis van die huis ’n eksotiese dimensie bygekry toe twee toegewyde versamelaars – selferkende stadsjapies wat destyds in die modebedryf werksaam was – hier kom nesskop met hulle groeiende versameling Indiese oudhede.
“In Suid-Afrika was dit nog altyd moeilik om ’n huis te kry waaraan nie te veel gekarring is nie. Hierdie plek was relatief ongeskonde met baie elemente – soos die geelhoutbalk in die kombuis, die klipmuur en die vyeboom – nog behoue. Ons het dit dadelik gekoop, al was die buurt toe nog ’n spookdorp vol paneelkloppers en verroeste karre,” vertel die een wat douvoordag opstaan om die son te groet en sy pooja (gebed) te doen terwyl hy wierookstokkies aansteek vir geliefdes, lewend en uitgevaar.
“Die fashionable De Waterkant van vandag – en ‘Moffieville’! – het half óm ons ontstaan. Báie later eers,” laat die langeraat, ’n naguil, hoor.
Die twee het weldra besef dis moeilik om in die Moederstad ’n huis te kry waar jy heeljaar met gemak kan leef én onthaal. “Ons het meer plek nodig gehad – vloeroppervlakte én volume – met hoekies waar jy kan lees of tee drink, mediteer of onthaal. Toe die ou glasdeure se spoor begin roes en die vyeboom olik raak, was dit nou of nooit! Maar om getrou te bly aan die skaal van die historiese bousels in die buurt én terselfdertyd jou reise na Indië en die detail en atmosfeer van dié land se manjifieke paleise en forts te hervertolk, was nie maklik nie.”
Hulle het die hulp van die argitek John Middleton-Simpson ingeroep en hom selfs twee keer Indië toe gevat om hulle visioene te verwesenlik en hoogteprobleme uit te sorteer. Uiteindelik is ’n stuk katoen oor die vyeboom getrek om dit teen sementstof te beskerm en die huis langsaan gehuur sodat die herbouings ’n aanvang kon neem.
Die omvang van – en toewyding aan – dié tweejaarprojek gaan die verstand te bowe: Byna alles in die huis, buiten vir die glaspanele en nuwe I-balkkolomme van staal wat vir die sentrale vertrek nodig was, is uit Indië verskeep – van wasbakke tot Birmaanse kiaatvloere, marmer tot meubels tot breekgoed, kunswerke tot tapyte tot heilige koeie tot beddegoed en plafonne. Vir die koel, private binnehof het hulle ’n marmer-teehuis met ’n manjifieke koepel bestel. Dit het 60 mense 22 maande geneem om dit in die versengende Thar-woestyn met die hand te kerf – net die koepel weeg 13 ton! In Udaipur het hulle ’n kristalkandelaar gesien en 20 individuele stukke by die eienaars, ’n aristokratiese familie, geleen om hulle eie een met die hand te laat maak. (Hulle het die familie bedank deur ’n paar van die oorspronklike stukke te vervang wat oor die jare verlore gegaan het.)
En nou, in ’n keisteenstraat aan die suidpunt van Afrika, is alles naatloos een, asof dit nog altyd hier was, hierdie loflied aan die mees religieus en kultureel diverse land ter wêreld.
Tog gooi die twee gou wal as jy hulle as perfeksionis-versamelaars met ’n pynlik onverskrokke oog vir detail beskryf. “Al die vondste in die huis het vir óns gewag; ons het dit nie gesóék nie. Die Indiese mense wat ons oor die jare op besoeke leer ken het en nou as vriende beskou, het besef ons is nie soos die ryk Amerikaners, Switsers of Belge wat versamel as ’n belegging nie. Hulle beskou ons as toesighouers aan wie jy jou kosbaarste familiestukke kan toevertrou omdat dit met respek versorg sal word. Ons dilemma is aan wie ons alles gaan nalaat. Galerye of museums? Dit sal die siel van die stukke verander… ’n mens wil eerder nie daaraan dink nie.”
Indië het hulle nog altyd gefassineer, nog lank voordat dit ’n modieuse vakansiebestemming geword het; hulle praat van ’n “roeping” vir die land, van “liefde met die eerste oogopslag”. “Op my eerste besoek, omtrent 30 jaar gelede,” vertel die een wat al minstens honderd keer daar was, “het olifante nog die waentjies met die vliegtuigbagasie getrek. Gelukkig gaan ek minstens een keer per maand soontoe vir werk!” (Al die vondste van dié reise is by Private Collections beskikbaar.)
“Die ongelooflike armoede,” sê die langeraat, “is ’n ander ding. Die mense leef in volkome harmonie met hulle lot, hulle spirituele besef deurweef elke aspek van hulle bestaan.” En dan, tersyde: “Ek weet nie hoekom niemand nog ’n boek oor die heilige koeie van Indië gedoen het nie.”
Nietemin. Hier, in hulle “In India there is no such thing as overdecorating”-stadskokon, leef die twee vegetariërs en hulle vier honde nou met oorgawe, omgewe met die reuk van wierook, met respek vir stilte en ruimte en eeue oue rituele. Moenie dat die stil oase jou flous nie, want in hierdie doofstom Toring van Babel hoef jy net stil te word om elke bord en boek, elke kussing en meubelstuk, elke vloerpaneel, dakbalk, tapyt en heilige koei, elke lank oorlye oud-inwoner, se verhaal te hoor. En as jou ore nie spits genoeg is nie, is daar altyd die twee versamelaars wat die nagtelike fluisteringe vir jou sal vertolk.
• Private Collections 021 421 0298

