Issue 51 Archives | Visi https://visi.co.za/tag/issue-51/ SA's most beautiful magazine Mon, 26 Jan 2015 12:36:21 +0000 en-GB hourly 1 https://wordpress.org/?v=6.9.4 https://visi.co.za/wp-content/uploads/2023/02/cropped-ICO-32x32-Black-1-1-32x32.png Issue 51 Archives | Visi https://visi.co.za/tag/issue-51/ 32 32 In die sewende hemel https://visi.co.za/in-die-sewende-hemel/ Tue, 08 Mar 2011 12:47:55 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/in-die-sewende-hemel/ Die Randlords-kroeg-en-lounge het ’n ongelooflike 360 grade-uitsig oor Johannesburg, maar die manjifieke ontwerp van dié nuwe uithangplek hoef nie ’n treetjie vir die uitsig terug te staan nie.

The post In die sewende hemel appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes & Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqualine Myburgh Chemaly


Die Randlords-kroeg-en-lounge het ’n ongelooflike 360 grade-uitsig oor Johannesburg, maar die manjifieke ontwerp van dié nuwe uithangplek hoef nie ’n treetjie vir die uitsig terug te staan nie.  

Wat kry jy as jy een van Afrika se voorste argitektuur-en-leefstylspanne en die ontwerpduo agter van die vasteland se luuksste lodges saam ’n kroeg op die 22ste verdieping van ’n kantoorgebou in Braamfontein skep?

’n Hemelhoë dosis Afrika-moetie, dis wat!

Toe Debra Fox en Chris Browne, die kreatiewe en bestuurspan agter luukse uitspanplekke soos &Beyond se Ngorongoro Crater Lodge, verlede jaar hulle eie konsultasiefirma begin het, het hulle nooit kon droom een van hulle eerste opdragte sou in die ietwat vervalle middestad van Johannesburg wees nie. Maar nou ja, net soos die twee destyds baanbrekers was toe hulle met kristalkandelare en Persiese tapyte nuwe lewe in safarilodges geblaas het, lui hulle skeppende visie nou ’n blinknuwe era in vir die hart van die Goudstad. Randlords, ’n skouspelagtige uithangplek op die dak van ’n wolkekrabber in Braamfontein, span as ‘t ware die kroon.

Debra en Chris het dadelik die hulp ingeroep van die argitektuur-en-ontwerpkenners Silvio Rech en Lesley Carstens, wat veral vir hulle lodge-ontwerpe – ook vir &Beyond – bekend is. Silvio en Lesley spesialiseer in “handgemaakte haute couture” en laat hulle altyd deur die inheemse estetika en plaaslike vaardighede lei wanneer hulle ’n allesomvattende ontwerplossing vir ’n ruimte bedink.

Die twee spanne het met ’n konsep vorendag gekom wat totaal in voeling is met ’n kontemporêre Johannesburgse leefstyl: ’n bietjie Afrika, ’n skeut burlesk en hope grootstad-sofistikasie. Die ruimte bestaan uit ’n glansryke kroeg en ’n verskeidenheid sitruimtes kompleet met banke wat oorgetrek is in leer, poefs, houtstoeltjies en swaaie wat met kralewerk spog. Dit maak nie eintlik saak waar jy sit nie, want oral kan jy jou vergaap aan die uitsig oor die betonoerwoud en sy buitewyke. As jy buite ontspan, kan jy jou oë tegelykertyd oor Soccer City en Sandton City laat gly. Saans sorg vuurdromme, ’n glasbalkon en miljoene stadsliggies vir die heel lekkerste hemelhoë kuierplek in Gauteng.

Die spyskaart bestaan uit ontwerperstapas: beessosaties bedruip met pesto, blini-stapels, kaviaar… En as jy soos ’n koning wil voel, bespreek jy jou eie dranktrollie – kompleet met jou eie butler vir die aand. Wees ook op die uitkyk vir die gewaagde video’s in die mansbadkamer en die sexy kelnerinne met blonde pruike en goue stewels. James Bond kan sy ou skoene agterna gooi! Ons hoor al vir jare praatjies dat Johannesburg se sentrale sakekern uit die dood gaan opstaan. Randlords met sy sexy wêreldstadstyl is dalk net die draaipunt waarop almal gewag het.

• Randlords, boonste verdieping, South Point Towers, hoek van Stasie- en De Korte-straat, Braamfontein, www.randlords.co.za, 011 242 8637

• Fox Browne Creative 083 280 7304 (Debra Fox), 083 456 8994 (Chris Browne)

• Silvio Rech & Lesley Carstens-argitekte 011 486 1525/082 900 9935, adventarch@mweb.co.za

Die volhoubare betonoerwoud

Randlords vorm deel van ’n “volhoubaarheidsvisie” wat die ontwikkelaar South Point vir die hele Braamfontein het.  

South Point het reeds verskeie verwaarloosde geboue in Braamfontein opgeknap en in stylvolle, bekostigbare studentebehuising verander, maar sorg ook terselfdertyd vir vermaak saans in die vorm van kuierplekke soos die S-Bar, die SP Café-koffiewinkel en die superkoel Lamunu-hotel in De Kortestraat.

Almal weet Sandton kan nie in alle Johannesburgers se smaak voldoen nie, en South Point meen Braamfontein is net die regte bly-en-kuierplek vir studente van die Universiteit van die Witwatersrand en elders – selfs wanneer hulle die dag klaar is met hulle studies. Met ’n unieke mengsel van modes, kos, kuns en teater lok die area wat die brug tussen die middestad en die noordelike stadsgebiede vorm, reeds mense in die kreatiewe bedryf wat daar woon én werk.

As ’n mens in gedagte hou dat Parkstasie op die suidelike grens van Braamfontein lê, kan die gebied dalk ’n goeie slaapvoorstad vir die Sandton-sakekern word, veral wanneer die Gautrein se suidelike been eers voltooi is. Buitendien kan almal dit nie bekostig om noordwaarts te trek nie, en wie sê in elke geval hulle wil? Dalk word die blinknuwe Braamfontein die lekker alternatief waarop almal al jare wag.

The post In die sewende hemel appeared first on Visi.

]]>
Greg Straw https://visi.co.za/greg-straw-3/ Tue, 08 Mar 2011 12:32:53 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/greg-straw-3/ ’n Mens kry mense met visie wat die sosiopolitieke of ekonomiese landskap van Suider-Afrika verander, en dan kry jy mense soos die landskapontwerper en tuinboukundige Greg Straw wat dit, wel, letterlik doen.

The post Greg Straw appeared first on Visi.

]]>
PHOTOS: Dook | WORDS: Gareth Pyke


’n Mens kry mense met visie wat die sosiopolitieke of ekonomiese landskap van Suider-Afrika verander, en dan kry jy mense soos die landskapontwerper en tuinboukundige Greg Straw wat dit, wel, letterlik doen.

Greg Straw is die eienaar van Earth Archi-tectural Landscapes, ’n maatskappy wat van Sandton tot Pemba aardlinge aanmoedig om landskappe en habitats tot hulle vorige glorie te herstel. Onder hulle talle projekte tel private huise, Nelson Mandela se tuine in Qunu en Houghton, die Athol Place-boetiekhotel in Sandton, gemeenskapsbyeboerderye, en selfs sokkervelde in die Kongo.

Greg beweeg heeltyd tussen die spogge-rigste en nederigste terreine. VISI het hom een oggend vroeg op ’n aanloopbaan in Vilanculos uitgevra oor Earth – en die aarde.

“Wat ons anders maak, is die feit dat ons landskappe ontwerp, bou, plant én in stand hou. Ons kweek selfs ons eie plante,” lag hy, “en dít kan nogal ’n uitdaging wees met die soutseesproei by ’n eilandhotel aan die ooskus van Afrika!”

Kortom: Jy sal Greg net so maklik by ’n sjiek hotel raakloop as by een van Zambië se oudste gholfbane wat effens opgeknap moet word. Die een dag ontwerp hy ’n droomdakwoonstel in Sandhurst en die volgende dag is hy doenig met ’n plaasoord waar vigswesies met diere kan kennis maak.

Wat is volgende? “Ons ontwerp tans ’n terreinplan wat as bloudruk sal dien vir 260 nuwe skole wat reg oor Suid-Afrika gebou gaan word. Ons is ook besig met drie vakansieoorde in Mosambiek, etlike selfvolhoubare markte – én ons is hard aan die dink oor volgende jaar se Rooms on View.”

Africa is ’n tamaai vasteland, maar gelukkig dink Greg Straw nie klein nie.

• 011 606 2671, www.earthland.co.za

The post Greg Straw appeared first on Visi.

]]>
Vuur en vlam https://visi.co.za/vuur-en-vlam/ Tue, 08 Mar 2011 11:44:27 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/lifestyle/vuur-en-vlam/ House on Fire in Swaziland is ’n vermaakruimte, kunstenaarsateljee, ontwerpmiddelpunt én kunsgalery in een. Jiggs Thorne, mede-eienaar (en self ook ’n digter, vertoonkunstenaar en beeldhouer), verduidelik waaroor dié verbeeldingryke plek gaan.

The post Vuur en vlam appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Adriaan Louw | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden


House on Fire in Swaziland is ’n vermaakruimte, kunstenaarsateljee, ontwerpmiddelpunt én kunsgalery in een. Jiggs Thorne, mede-eienaar (en self ook ’n digter, vertoonkunstenaar en beeldhouer), verduidelik waaroor dié verbeeldingryke plek gaan.

House on Fire het in my drome bestaanlank voordat dit ’n werklikheid geword het. Ek het van jongs af net gewéét ek wil eendag ’n kreatiewe ruimte bou op my ouers, Jenny en Pete, se plaas, waar ek en my broers, Sholto en Roland, grootgeword het. Die fisiese bouwerk is al tien jaar aan die gang, maar die konsep is al minstens 20 jaar aan die ontkiem in my agterkop.

Nadat ek my graad in politieke wetenskap en drama voltooi het, het ek in Johannesburg saam met houtkerfkunstenaars langs die paaie begin werk en weldra besef ’n platform is nodig om as inspirasie te dien vir die kunste in Swaziland. Dis daar waar ek die fantasielandskap van House on Fire begin ontwerp het en vandag, jare later, word dit erken as ’n wêreldklas-saamkomplek wat ’n mens kortweg ’n “performance venue” sal noem.

Swaziland het ’n baie tradisionele geskiedenis en ’n ryke kulturele lewe, maar House of Fire wil eerder die kruising wees waar die verskillende kulture byeen kan kom en waar die nuwe “kruisings” wat só gevorm word, kan help om ’n nuwe soort bestaan tot stand te bring. Met hierdie filosofie in gedagte sorg ons dat ons programme altyd eklekties is en tot uiteenlopende gehore sal spreek.

Die enigste ding wat nooit verander nie, is die feit dat ons – as ’n uitlaatklep vir uitdrukking, emosies en kreatiwiteit – altyd aan die verander is! Die ateljee se span beelhouers – Shadrack Masuku, Phuzu Mtshali en Noah Mdluli – werk baie nou saam met my en elke dag word nuwe elemente bygevoeg.

Die beeldhouprojek was een van die grootste katalisators vir die argitektuur van die gebou. Ons het baie aandag geskenk aan hoe verskillende materiale – hoofsaaklik seepsteen en indringerhout wat plaaslik beskikbaar is – as ’t ware hulleself “uitdruk” in ’n meer gestruktureerde ruimte.

Humor en woordkuns kry ook, danksy my voorliefde vir “perfomance”-digkuns en -teater, ’n regmatige plek hier. My inspirasie kom van oral, maar ek moet die Rotstuin van Chandigarh en Helen Martin se Uilhuis op Nieu-Bethesda uitsonder.

House on Fire het tans ’n meer formele struktuur omdat ons sekere funksionele elemente moet insluit, maar hopelik sal idees hulleself in die toekoms meer vrylik kan uitdruk. Ek hoop dit sal ontwikkel tot ’n volledige kreatiewe gemeenskap vir Swaziland, ’n dinksentrum wat artistieke groei aanmoedig. Die projek beskik oor ’n sekere kulturele rykheid wat dit aan die res van die wêreld kan bied – met die nodige geleenthede en ondersteuning, glo ek, kan baie spesiale dinge gebeur.

• House on Fire 00 268 528 2110, 00 268 7617 9115 (selfoon), info@house-on-fire.com, www.house-on-fire.com

• Malandelas B&B 00 268 528 3448, bookings@malandelas.com (Tariewe: R300 per persoon, R400 vir twee mense wat deel per nag.)

The post Vuur en vlam appeared first on Visi.

]]>
Appeltjies vir die dors https://visi.co.za/appeltjies-vir-die-dors/ Mon, 07 Mar 2011 16:27:54 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/appeltjies-vir-die-dors/ In die Apple-gebou in Johannesburg wag ’n verrassing om elke hoek en draai — of jy nou daar werk of net gaan inkopies doen.

The post Appeltjies vir die dors appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Trevyn & Julian McGowan | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


In die Apple-gebou in Johannesburg wag ’n verrassing om elke hoek en draai – of jy nou daar werk of net gaan inkopies doen.

Jy dink waarskynlik dit lyk soos ’n moderne kunsgalery – ’n platform met skoon, strak lyne wat nie met die kunswerke sal meeding nie. Of dalk soos ’n ruimte wat deur die kontemporêre argitek Tadao Ando ontwerp is om die natuurlike lig tot sy reg te laat kom. Amper, maar nog nie stamper nie. Hierdie is die Suid-Afrikaanse hoofkantoor van die Amerikaanse rekenaarmaatskappy Apple, waar selfs die besoekers voel of hulle deel is van die aksie.

Adrian Davidson van Savile Row Interior Design and Architecture, wat die binneruimtes behartig het (TPS.P-argitekte was vir die buitekant verantwoordelik), sê ’n deel van die opdrag was om die gebou so “deursigtig” as moontlik te maak. “Ondanks sekere akoestiese skeidings en private gedeeltes wat noodsaaklik was, is die binnekant spesifiek ontwerp sodat besoekers deel voel van dié sakereus se hoofkantoor, wat bietjie soos ’n dinamiese byenes voel. Die gebou lyk regtig oop en lig.”

Eerlikheid was ’n ander belangrike maatstaf. “Ons het rou materiale soos beton gebruik en eenvoudige houtvloere wat mooi sal verouder,” sê Adrian.

Dis ook ’n plek waar ontwerp die onbetwiste botoon voer. Die gebou is in opdrag van die eienaars, twee broers van iets in die veertig, voltooi en uiteindelik het besoekers en klante, die bestuur en die skoonmakers, ontwerpkenners met ’n kritiese oog en mense wat gewoon “weet waarvan hulle hou”, ewe veel toegang tot die ontwerpkuns, beeldhouwerke en skilderye.

Julian en Trevyn McGowan van Source het een van die broers – ’n ywerige versamelaar met ’n “ongelooflike oog” – gehelp om as’t ware kurator te speel vir sy versameling kontemporêre ontwerp.

“Die interieur vorm ’n teenstelling tussen oop, skoon ruimte en hoogs dekoratiewe ontwerpelemente in die vorm van kunsstukke deur topontwerpers van reg oor die land,” sê Trevyn. “Die eienaar is avontuurlik met ’n lekker speelse streep, en sy kunsversameling weerspieël dit.” Dit verklaar waarskynlik die lewensgroot gorilla-drankkabinet van soliede brons, ’n ontwerp van Otto du Plessis, wat die sjampanje en glase vashou.

“Hy hou van ontwerp wat ’n mens uitdaag,” verduidelik Trevyn. Die eienaar self is mal daaroor om ’n werkruimte vir homself en die werknemers te skep wat gedurig kan verander. “Kuns en mooi goed help om dinge in perspektief te plaas,” sê hy. Die mense wat hier werk, kan hulle verwonder aan ’n ragfyn linnekonsole deur Koop en Angus Taylor se reusagtige Rock Man wat lankuit lê in die tuin. Dis ook hier waar jy ’n onderstebo engel deur Beezy Bailey sal raakloop. En as jy op presies die regte plek opkyk, sal jy ’n lig met die naam “My Secret Place” deur Heath Nash sien.

“Dit gaan daaroor om ’n passie vir die lewe te hê en om die lewe te geniet. Dis avontuurlik, dis manlik en tog speels. Dis opbeurend en dit laat ’n mens sommer stukke beter voel,” sê Trevyn. Op een van Ruan Hoffmann se dekoratiewe borde is ’n ou waarheid uit die jare sestig geskryf – “You can’t always get what you want” – maar in hierdie gebou word dié uitdrukking so waar as vet op sy kop gekeer.

• Savile Row 011 234 8191, www.savilerow.co.za

• TPS.P-argitekte, 011 646 8602, www.tpsp.co.za

• Source 044 877 0719, www.source-sa.com

The post Appeltjies vir die dors appeared first on Visi.

]]>
Kate Liebenberg https://visi.co.za/kate-liebenberg-3/ Mon, 07 Mar 2011 16:12:11 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/kate-liebenberg-3/ Kate Liebenberg, eienaar van Créma Design in Kaapstad, het ’n onblusbare passie vir oorspronklike ontwerp en erken ruiterlik sy kan nie genoeg kry nie van die fyn detail, sappige stories en humor in die wêreld van kontemporêre meubelontwerp.

The post Kate Liebenberg appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Micky Hoyle | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Alma Viviers


Kate Liebenberg, eienaar van Créma Design in Kaapstad, het ’n onblusbare passie vir oorspronklike ontwerp en erken ruiterlik sy kan nie genoeg kry nie van die fyn detail, sappige stories en humor in die wêreld van kontemporêre meubelontwerp.

Waar kom jou passie vir ontwerp vandaan?

My pa was – is steeds – in die hotelbedryf betrokke. As kind in Harare is ons destyds dikwels vir vakansies Europa toe waar ons bevoorreg was om in van die beste hotelle te bly. Dis daar waar ek besef het ek wil altyd deur mooi goed omring wees.

Wanneer het jy Créma Design begin?

Ek het lank huise verkoop en met verloop van tyd besef ek’s mal oor die ontwerpwêreld. Ek het argitektoniese ontwerp aan die Design Time-kollege in Kaapstad gestudeer en was daarna die bestuurder van St Leger and Viney se toonkamer in die Kaap. In 2002 het Grant Hood en ek Créma in die oorspronklike Cape Quarter in Groenpunt begin met net twee verskaffers. Ek het intussen die maatskappy by Grant gekoop en verkoop nou produkte van XX verskaffers.

Waar kom die naam van die onderneming vandaan?

Dit was oorspronklik Créma – Oggetto del Desiderio (Begeerlike Voorwerpe). Die naam het na die volmaakte créma op ’n koppie koffie verwys, of die gedagte van “die room van die oes”. Ek het later die “Design”-deel bygesit omdat ek gedurig oproepe gekry het van mense wat koffiemasjiene aan my wou verkoop!

Is daar ’n ontwerper vir die jy die grootste bewondering het?

Ek is ’n groot aanhanger van die Brit Tom Dixon vir sy toewyding tot innovasie en sy missie om nuwe lewe in die Britse meubelbedryf te blaas. Ek bewonder ook een van my heel eerste veskaffers, Nani Marquina, vir die kontemporêre gees en tradisionele metodes waarmee sy die ontwerpe van haar eiesoortige matte benader.

Hoe dikwels beland die ontwerpe wat jy verkoop, in jou eie huis?

In ons baie nederige blyplek word familie-erfstukke heel gemaklik met kleurvolle Spaanse Globus-stoele vermeng. Elke jaar word die produksie van sekere ontwerpersligte gestaak en en kort voor lank maak die winkel se demonstrasiemodel dan ’n verskyning in ons huis. Net soos die meeste vroue nie vir hulle mans vertel as hulle ’n nuwe handsak of skoene koop nie, bly ek ook tjoepstil wanneer ek nog ’n nuwe tafellig of mat huis toe bring!

Wat is splinternuut by Créma Design beskikbaar?

Ons het pas die volledige Tom Dixon Industry-versameling uitgepak – fluoor was nog nooit so koel nie! Ons verwag ook binnekort die nuwe Successful Living-ligversameling – hierdie ligte is die produk van ’n samewerkingsooreenkoms tussen Foscarini en Diesel en gee gestalte aan Diesel se kenmerkende styl: ikonies, onkonvensioneel, speels, vurig en kreatief.

• 021 434 0661, www.cremadesign.co.za

The post Kate Liebenberg appeared first on Visi.

]]>
Groter as lewensgroot https://visi.co.za/groter-as-lewensgroot/ Mon, 07 Mar 2011 15:14:54 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/groter-as-lewensgroot/ Die beeldhouer Angus Taylor en skilder Rina Stutzer leef en werk in ’n huis in Pretoria wat terselfdertyd as galery dien vir hulle kunswerke.

The post Groter as lewensgroot appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Trevyn & Julian McGowan | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


Die beeldhouer Angus Taylor en skilder Rina Stutzer leef en werk in ’n huis in Pretoria wat terselfdertyd as galery dien vir hulle kunswerke.

Angus Taylor was ’n droomkliënt, want hy was bereid om te eksperimenteer, sÊ Pieter Mat hews van die argiteksfirma Mat hews en Vennote. Op sy beurt was Pieter die droomargitek vir die projek omdat hy die huis as agtergrond vir Angus se kuns ontwerp het. “Ek en my vennoot Liam Purnell wou seker maak ’n mens is deurentyd bewus van Angus as kunstenaar,” sê Pieter. “Selfs die vensters wys óf in die rigting van ’n werk óf dit raam ’n uitsig op een van sy skeppings.”

’n Ander seëning was die feit dat Angus, wat die erf ontdek het toe hy die omgewing met sy bergfiets verken het, graag sélf sy hande vuilmaak as dit by bouwerk kom. “Ons kon dinge probeer wat andersins nie moontlik sou wees nie,” verduidelik Pieter. “Hy het geweet waar om sekere materiale in die hande te kry én hy het die artistieke aanvoeling gehad om dit reg te gebruik.” Die granietblokke waarmee die buitemure bedek is, is ’n goeie voorbeeld. Vir die vloere is ongepoleerde graniet gebruik met boorgate wat deel vorm van die ontwerp, terwyl sigbeton vir die plafonne ingespan is.

Angus onthou hoe hy vir Pieter gesê het: “Ontwerp dit net – moenie jou oor die res bekommer nie, alles sal uitwerk.” En dit het! “Ons is al twee kunstenaars,” sê Angus met verwysing na sy vrou, die skilder Rina Stutzer, wat onlangs ’n tentoonstelling by die Everard Read-galery in Rosebank gehou het. “Ons het dus nie ’n fortuin gehad om te blaas nie, en ons wou self van die bouwerk doen.”

Angus kon op sewe al sweis en het self die staalrelings vir die huis gesweis, asook die gepoleerde skuinsrand-boksvensters wat elk van ’n halwe ton staal gemaak is.

Hoewel die twee meestal in ’n metaalgietery werk, raak hulle soms saans of oor naweke doenig by die huis. Die tuisateljee moes dus ’n swaardiens-betonvloer kry wat met staal versterk is om die gewig te kan dra van die graniet en metale waarmee Angus werk.

“Ons is al twee met sewe kunswerke op ’n slag besig,” lag hy. Daarom moes die huis ontwerp word sodat die leefgedeelte by die ateljee kan aansluit óf afgeskort word. Angus het met die bouprojek begin voordat Rina ingetrek het en sy aanvanklike opdrag aan die argtekspan was: “Dit moet verkieslik eers ateljee wees en dan huis.”

Rina sonder nog iets uit wat hulle huis anders maak. “Angus is ’n lang ou en alles hier is groter as normaalweg. Hier kan ’n mensbehoortlik asemhaal en ek’s mal daaroor dat buite altyd binne is.”

“Dié is nie ’n huis vol palawas nie,” sê Angus. “Niks kolomme met’n moerse voordeur nie. Net eenvoudige, doelgerigte argitektuur.”

• Mathews en Vennote-argitekte, 0861 116 222, www.maaa.co.za

• Angus Taylor 012 803 2369, www.angustaylor.co.za

The post Groter as lewensgroot appeared first on Visi.

]]>
Innerlike vrede https://visi.co.za/innerlike-vrede/ Mon, 07 Mar 2011 14:18:36 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/architecture/innerlike-vrede-2/ Op die kruin van ’n windverwaaide duin in Oos -Londen staan ’n huis deur Designworkshop:SA met ’n lifelike uitsig oor die Igodarivier en ’n koel, kalm binnehof vir ’n hart.

The post Innerlike vrede appeared first on Visi.

]]>
FOTOS Angela Buckland WOORDE Alma Viviers


Read in English.

Op die kruin van ’n windverwaaide duin in Oos-Londen staan ’n huis deur Designworkshop:SA met ’n lifelike uitsig oor die Igodarivier en ’n koel, kalm binnehof vir ’n hart.

Die wêreld weet al jare lank hoe slim dit is om in strawwe klimaatstreke ’n huis met ’n binnehof te bou – dink maar aan Mexikaanse haciendas of die koel binnekamers van die Is lamitiese argitektuur. Designworkshop:SA het dieselfde benadering gevolg toe hulle ’n strandhuis moes ontwerp vir ’n kliënt wat in Brittanje woon.

Volgens die argitek Janina Masojada kom jou meer ontspanne kant in ’n vakansiehuis na vore en daarom is dié blyplekke meestal “oper en meer sosiaal”. Die huis by Igoda weerspieël hierdie uitgangspunt met drie selfversorgende vleuels wat om ’n binnehof gerangskik is. “So word ’n gemeenskaplike en sirkulasieruimte tussen die verskillende vleuels geskep – dis die plek waar almal byeenkom as hulle die private vleuels verlaat,” verduidelik Janina.

Die binnehof is nie net die tuiste van inheemse bome en hanglanterns wat sorg vir ’n eksotiese atmosfeer nie, maar bied ook beskerming teen die seewind wat hier soms erg kan waai.

Ondanks dié uitleg is die huis allermins in homself gekeer – oral word die uitsig op strategiese wyse “geraam” sodat ’n mens deurtentyd bewus is van die kusgebied rondom jou.

“Elke vleuel fokus op ’n ander aspek van die terrein en beklemtoon só ’n verskeienheid van ervarings en natuurlike toestande,” sê Janina. “Die hoofleef-en-slaapkamervleuel kyk oor die Igodamonding uit op die strand, terwyl die slaapkamer in die oorkantste vleuel op digte kusveld uitkyk met die see in die agtergrond.”

Die argitekspan het hulle deur die omgewing laat lei toe hulle materiale en afwerkings gekies het. Met die Oos-Kaapse argitektuur in gedagte het hulle op afgewitte baksteenwerk, sigbeton en growwe pleistersteenmure besluit. Hierdie balans tussen eenvoud en aandag aan die fynste detail word verder gevoer in die interieur, waar herwinde oregondennehout uit ’n vervalle pakhuis die hoofstruktuur en -afwerking vorm.

Designworkshop:SA het ook omgewingsvriendelikheid in gedagte gehou met beginsels van passiewe klimaatbeheer, soos die regte oriëntasie, groot dakoorhange en natuurlikeventilasie. Reënwater word in tenks in die kelder geberg en kan in die huis of tuin gebruik word. “Omgewingsvriendelike beginsels is absoluut standaard wanneer ons ’n projek aanpak,” sê Janina, “en word geruimte tyd reeds as gewone goeie argitekspraktyk beskou.”

In ’n era waar so baie huise nog spoggerig, ikonies of monumentaal probeer wees, kry dié een dit reg om stil-stil ’n argitektoniese stellingte maak deur op ruimtelike verhoudings eerder as komplekse vorms te fokus, en op konteksgedrewe ontwerp eerder as ’n spesifieke argitektoniese styl.

Designworkshop:SA 031 303 5191, www.designworkshopsa.com

Eers gepubliseer in VISI 51. Sien meer van ons gunsteling strandhuise hier en koop die Endless Summer uitgawe van VISI vir die volkome strandhuis versameling.

The post Innerlike vrede appeared first on Visi.

]]>
In alle eenvoud https://visi.co.za/in-alle-eenvoud/ Fri, 04 Mar 2011 15:46:51 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/architecture/in-alle-eenvoud/ Die Amerikaanse argitek Rick Joy benader elke projek met dieselfde drie maatstawwe: eenvoud, suiwerheid en grasie. Trevyn McGowan, een van sy grootste bewonderaars, het met hom gesels.

The post In alle eenvoud appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Jeff Goldberg & Bill Timmerman | WOORDE: Trevyn McGowan


Die Amerikaanse argitek Rick Joy benader elke projek met dieselfde drie maatstawwe: eenvoud, suiwerheid en grasie. Trevyn McGowan, een van sy grootste bewonderaars, het met hom gesels.

As my grootste droom bewaarheid word en ek kan enige argitek ter wêreld aanstel om iets vir my te ontwerp, sal Rick Joy van Tucson in die VSA beslis die wenner wees. Ek bewonder sy werk al vir meer as tien jaar omdat hy die “volmaakte toevlugsoord” verstaan: ’n huis vol vrede en stilte, maar wat terselfdertyd die mees dramatiese aspekte van die omringende landskap na vore bring. In Suid-Afrika met sy magdom ongelooflike natuurskoon wat as agtergrond dien, is Rick se beeldskone maar tog diskrete, omgewingsbewuste, klimaatsensitiewe argitektoniese beeldhouwerke die perfekte inspirasie.

Rick begin die voorwoord van sy boek Desert Works met ’n beskrywing van ’n kampvakansie saam met sy seun en die weerkaatsing van meteoorreën wat hy in sy seun se oë gesien het. Met dié intieme staaltjie lei hy sy veelbekroonde werk in, en selfs al fokus sy praktyk deesdae op groot internasionale projekte, beskik elke bousel steeds oor dieselfde persoonlike, outentieke suiwerheid wat sy eerste geboue so ánders gemaak het (hy het aan die begin as argitek en boukontrakteur gewerk).

Rick het kuns en musiek gestudeer en daarna vir 12 jaar as terreinskrynwerker gewerk voordat hy op argitektuur – die perfekte kruising tussen dié diverse rigtings – besluit het. Tot vandag toe speel sy passie vir musiek ’n belangrike rol in sy benadering tot argitektuur – die “stiltes” in sy geboue is net so noodsaaklik soos die “note” en hy verwys dikwels na homself as ’n dirigent wat as “bemiddelaar” optree tussen botsende kragte in die ontwerp- en bouproses.

Rick is ’n boorling van die groen landskap van Maine, maar het in 1990 sy argitektuurgraad in Arizona behaal. Die majestueuse skaal en kulturele diversiteit van dié woestynlandskap het hom gou oorrompel en aanvanklik het hy meestal residensiële projekte aanvaar. Rick het vir baie jare toesig gehou oor die konstruksieproses van sy geboue en danksy dié betrokkenheid – en veral die gesamentlike oplossing van probleme op die bouterrein – kon sy praktyk beter gehaltebeheer toepas, maar terselfdertyd ook meer eksperimenteer.

Die geskiedenis en plaaslike boutradisies vorm altyd die hoeksteen van Rick se benadering wanneer hy die “multi-sensuele” aspekte van die terrein en die onmiddellike omgewing ondersoek. Die geluide en reuke en hoe ’n mens dit ervaar; die geknars van gruisklip onder jou skoen of die gevoel van verligting wat druppende water in die woestynhitte verskaf; die verrassing van ’n piepklein detail of ’n uitsig op ’n uitgestrekte stuk aarde; wat ’n mens moet doen om die lig of ander klimaatstoestande die beste vas te vang… letterlik álles word ontleed en vorm uiteindelik deel van Rick se leefstylvoorstel vir die spesifieke plek en individu. Intuïsie bly ook nie agterweë nie, want uiteindelik is sy doel om ’n kliënt se teenwoordigheid in ’n ruimte en in die groter landskap meer eg te laat voel.

Rick se ontwerpe spog met voortdurende, energiewekkende teenstellings tussen soliede massa en “geaardheid” aan die een kant, en die gevoel van “liggies oor die aarde beweeg” aan die ander: Die konsep van ’n ononderbroke hoogommuurde binnehof wat die blou hemel openbaar (400 Rubio Studio), of drie staalbedekte kubusse wat bo die woestyngrond huiwer en net liggies daaraan raak (Casa Jax).

Vrede en ongeforseerde glansrykheid

Sy soomlose konstruksie, die afwesigheid van standaard detail en die ineensmelting van een materiaal in ’n ander sorg vir vorms wat elegant sowel as eenvoudig is; trouens, juis deur oënskynlik eenvoudige strukture en ’n beperkte verskeidenheid materiale word die gevoel van opperse luuksheid, vrede en ongeforseerde glansrykheid gebore.

“Dit is gewoonlik ’n uitdaging om sekere aansluitings of ’n hoekdetail op te los, maar die heel grootste uitdaging is altyd om die oplossing eenvoudig te hou. Ná al die jare is ek nog net so geïnteresseerd daarin om basiese probleme op te los – of ek nou met omgedolwe grond, staalbedekte fasades, bakstene of klippe werk… die uiteindelike doel is tog om elke metode of materiaal tot sy reg te laat kom.”

In Rick se geboue staan die buitewêreld in skerp reliëf danksy die gebruik van groot stukke glas wat amper soos gate in die rou oppervlak van die mure lyk, terwyl hy die beweging van die son vasvang deur openinge op verskillende vlakke te gebruik. Jy voel kalm en veilig in sy geboue, maar terselfdertyd een met die ongelooflike landskap buite.

Die argitektspraktyk het geweldig uitgebrei en Rick kan vanselfsprekend nie meer al die konstuksiewerk persoonlik bestuur nie. Tog vereis die verskeidenheid projekte, internasionaal en in die VSA, byvoorbeeld die ongelooflike Amangiri vir Aman Resorts in Utah wat hy saam met I-10 Studio ontwerp het, dat hy steeds baie moet reis en voortdurend moet seker maak “die regte materiaal word vir die regte detail gebruik om die atmosfeer van elke plek tot sy reg te laat kom”.

Die drie projekte wat hy die graagste uitsonder, is “Catalina House, met sy kombinasie van massa en lig, beskerming en blootstelling, omhulling en verhulling, en met genoeg ruimte om tegelykertyd sosiaal of privaat te verkeer”; “Desert Nomad House, wat net liggies aan die aarde raak en die landskap respekteer deur die ongelooflike uitsigte op spesifieke tye van die dag te raam”; en Taos Hacienda, ’n Spaans-Amerikaanse hacienda-tipologie met ’n groot binnehof. Die huis lê net soos ’n fort op die rand van die mesa met goed gekose uitsigte na buite. Danksy die lig wat oor die gekompakteerde grond streel en massiewe koepelplafonne, is die alledaagse gevul met vrede.”

As ’n mens hom oor sy sensitiwiteit vir die omgewing uitvra, antwoord Rick die geheim lê daarin om jou kliënt te oortuig om meer bewustelik in verskillende ruimtes te leef. Uiteindelik, sê hy, kom ’n mens dikwels veel verder met beginsels van volhoubaarheid as met die jongste tegnologie. Hy verkies laetegnologie-oplossings en dring aan op die beskerming van die natuurlike terrein, die verantwoordelike gebruik van die regte materiaal en natuurlik die regte boumetodes sodat die gebou vir baie lank sal hou.

Hoe meer mense sy “persoonlike” benadering tot argitektuur respekteer en hoe besiger sy reisprogram raak, hoe groter is Rick se uitdaging om op die huidige oomblik en sensuele ontdekking te fokus. “Om ’n argitek te wees sleep my dikwels weg van die taak om geboue te maak. Deesdae word die meeste van my tyd opgeslurp om as bemiddelaar op te tree, om belange te verstaan en te versoen, om balans te soek, om aanklank te vind. Die grootste geheim is om genoeg tyd in te ruim om te besin oor die ruimte wat jy inneem of waarin jy leef… en om vrede te vind.”

• Rick Joy-argitekte Bpk, www.rickjoy.com, claudiakappl@rickjoy.com, +1 520 624 1442

The post In alle eenvoud appeared first on Visi.

]]>
Vryheidspark https://visi.co.za/vryheidspark/ Thu, 03 Mar 2011 17:37:06 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/architecture/vryheidspark/ ’n Nuwe uitstalruimte in Vryheidspark, Pretoria, gaan besoekers binnekort met ander oë laat kyk na Suid-Afrika se kulturele, historiese en spirituele verlede.

The post Vryheidspark appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Adriaan Louw | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


’n Nuwe uitstalruimte in Vryheidspark, Pretoria, gaan besoekers binnekort met ander oë laat kyk na Suid-Afrika se kulturele, historiese en spirituele verlede.

Dit gebeur nie aldag dat tradisionele genesers, Afrika-akademici en ’n kontemporêre argiteksfirma met sy hoofkantoor in Johannesburg se woelige Oxfordstraat koppe bymekaar sit om ’n 21ste eeuse gebou te ontwerp nie.

Maar dis presies wat met die ontwerp van //Hapo (jy spreek dit uit as “Kapo” met ’n Khoisan-klikgeluid), ’n interaktiewe interpretasie-en-tentoonstellingsruimte, gebeur het. Die gebou het rondom ’n konsultasieproses ontstaan, maar dit kon ook nie eintlik anders nie, want //Hapo beteken “droom”, en volgens ’n ou Khoi-gesegde sal g’n droom bewaarheid word as die hele gemeenskap nie daarin deel nie.

Hierdie spesifieke deel van Vryheidspark, ’n gedenkterrein vir mense wat hulle lewe in die stryd teen apartheid afgelê het, gaan die verhaal van Suider-Afrika in storie- en visuele formaat vertel wanneer dit op 1 April 2011 vir die publiek oopgestel word.

Die gebou sou reg van die begin af “uniek aan Afrika” wees, vertel die hoof-ontwerpargitek, Jeremy Rose van Mashabane Rose en Vennote. Die struktuur het ontstaan rondom die idee om groot klipvorms te skep wat met die landskap saamsmelt. Dié konsep is aanvaar ná ’n uitvoerige gesprek met ’n akademikus en ’n besoek aan die bekende sangoma dr. Credo Mutwa se rotstuin vol medisinale plante op Kuruman.

“Die struktuur bestaan uit kleiner klipvorms wat met mekaar verbind is en wat as’t ware uitsit en saamtrek,” verduidelik Jeremy. “Hierdie natuurlike vorms vind weerklank met die ander gedenktekens op die terrein, onder meer die Isivane-ruimte waar klippe ’n heilige begraafplaas omring.”

Volgens Jeremy het die span op ’n koperomhulsel vir die dak en die mure van die gebou besluit. “Koper verouder baie stadig en sal uiteindelik groen word om by die kleur van die koppie in te skakel.”

Die interieur voel asof ’n mens binne-in ’n grot is met vensters van onreëlmatige grootte en op verskillende vlakke wat die skeure in natuurlike rots naboots. “Ons het agtergekom hoe baie van die inheemse godsdienstige rituele binne grotte plaavind,” sê Jeremy. “Uiteindelik sorg die ontwerp vir individuele karakter, maar laat terselfdertyd die gebou as ’n museumruimte werk.”

Die binneruimtes is gegrond op die sewe tydvakke waarin die Suid-Afrikaanse geskiedenis ontvou het, soos “Die Aarde”, “Kolonisasie en Verset”, en “Nasie- en Vastelandbou”. Die struktuur sak en rys tussen die lae en hoë ruimtes wat ’n spesifieke tydvak definieer. “Die plekke waar die ruimtes ‘saamgeforseer’ word, is waar die storie ’n wending neem en idees gevorm word, byvoorbeeld die gebeure wat die stryd teen apartheid voorafgegaan het,” verduidelik Jeremy.

Tradisionele genesers het plante met medisinale eienskappe gekies om rondom die geboue te plant en aan die landskapontwerpers verduidelik waar elke soort plant moet groei. Die laaste woord behoort aan Jeremy: “Uiteindelik het die ontwerp van hierdie gebou ontstaan uit ’n soektog na beelde deur middel van ’n reeks gesprekke oor inheemse idees – ’n unieke proses wat tot ’n unieke struktuur gelei het.”

• Mashabane Rose Vennote 011 486 1057, www.mashabanerose.co.za

www.freedompark.co.za

The post Vryheidspark appeared first on Visi.

]]>
Katrin Lewinsky https://visi.co.za/katrin-lewinsky-3/ Thu, 03 Mar 2011 17:07:15 +0000 https://visi.co.za.dedi132.flk1.host-h.net/design/katrin-lewinsky-3/ Katrin Lewinsky glip so gemaklik tussen verskillende dissiplines dat Johannesburg se kreatiewe toneel eenvoudig nie dieselfde sal wees sonder haar nie.

The post Katrin Lewinsky appeared first on Visi.

]]>
FOTOS: Dook | WOORDE: Alma Viviers


Katrin Lewinsky glip so gemaklik tussen verskillende dissiplines dat Johannesburg se kreatiewe toneel eenvoudig nie dieselfde sal wees sonder haar nie. Sy was onder meer projekkoördineer van die AZA2010-argitektuurfees, kurator by die Co-op-galery en mededirekteur van die Goodman-galery, maar nou is sy rasend opgewonde oor haar nuutste projek as mede- kreatiewe direkteur van Noir Tailors.

Modes? Van waar gehasi?

Dit was glad nie ’n doelbewuste besluit nie – eerder ’n ou passie!

Wat behels jou rol as kreatiewe direkteur van die handelsmerk?

Ek en Roman Handt ontwerp die klere saam-saam en ek behartig ook ons korporatiewe identiteit.

Jou eerste versameling, “Town”, is by die Afrika-modeweek in Sandton gewys. Vertel ons kortliks daarvan.

Dis ’n klassieke versameling standaard items – eenvoudige kledingstukke wat lekker gemaklik is om te dra, maar wat uit die heel beste materiale gesny is. Ons het by swart en wit gehou en net fyn detail bygesit. Ons het letterlik oor elke steek en die potensiële uitwerking daarvan debat gevoer!

Hoekom het julle op mansklere besluit?

Toe ek en Roman ontmoet het, het ons albei sterk daaroor gevoel om Noir Tailors met ’n versameling mansklere vir alle seisoene af te skop. Die volgende een sal vir vroue wees.

Die kledingstukke het nogal ’n sterk argitektoniese gevoel – stem jy saam?

Enige kledingstuk is die eindproduk van ’n lang konstruksieproses – van die idee tot die ontwerp tot die patroon tot die materiaal en, uiteindelik, ook die vorm van die liggaam. Dis presies wat argitektuur is.

• Noir Tailors 072 709 8497, www.noirtailors.co.za

The post Katrin Lewinsky appeared first on Visi.

]]>